My Pa se 4 woorde van krag.

Hierdie skrywe dra ek op aan my aardse Pa, Johannes, (Kassie) Kasselman, wie afterall vir my simbolies is van my Hemelse Pa. Dankie Pappa. Ek is lief vir jou.

***********************************

Vanaand sien ek ‘n mooi post op facebook van iemand wie wens dat sy haar Pa net eenkeer kan bel, en sy raad kan vra. Want, sê die quote, ‘n Pa gee ‘n eerlike reguit antwoord, sonder onnodige emosies. Sjoe! Hoe waar is dit nie, vir die van ons wie so geseënd is, om ‘n wyse Pa te kan hê nie? Nie ‘n baklei-Pa nie, nie ‘n afwesige-Pa nie, nie ‘n self gesentreerde Pa nie, maar ‘n wyse Pa. ‘N Pa met selfbeheersing en insig. ‘N Pa wie waarlik die Here dien. Ek wil vanaand iets kosbaars deel van ‘n gesprek tussen my en my Pa, ‘n paar jaar gelede………

Ek het in ‘n situasie beland wat ek eerstens nie sien kom het nie, en tweedens het dit eensklaps ontaard in wisseling van woorde wat een geestelike sou beskryf as ‘n vervloeking, en ‘n volgende sou dalk sê dat die woordewisseling maar net baie harde waarheid was. Hoe dit ookal sy, ek het daardie dag my mind ge-speak, soos wat ek dit laas op kollege teenoor n dosent gedoen het. Daardie is ‘n ander dag se verhaal. Die lank en die kort….dit was erg! Baie bitter erg! Ek het gesag wat bokant my was, verskriklik hard, en eerlik en reguit aangespreek op ‘n manier en in woede, wat ekself nie voorbereid was of kon sit en uitdink of beplan het of sien kom het nie. Geensins. Ek kan dit ‘n sweepslag (letterlik) noem. ‘n Sweepslag van waarheid. En toe sak ek inmekaar……En ek is soos doodgaan hartseer; daai wat jy snik, maar geen geluid kom uit nie, ek is verdwaas, en kwaad, en oorstelp en magteloos en kragteloos. Het jy al ooit so gevoel? Jy kan nie eens bid nie. Glad nie. Ek stap in die gang af na die telefoon toe, soos ‘n verlamde robot……en ek bel my Pa.

Vir agtergrond. Ek bel NOOIT my Pa nie. Net as hy verjaar. Want nie ek of hy is bellers nie. Ons hou nie van oproepe maak nie. Ons klets of skinder nie oor fone nie. Dit is geensins ons dīng nie. Ook is ek nie een van daai dogtertjies wie met elke bakketel na pappa toe hardloop nie, of my pa bokant my eie man stel nie. Ek doen dit nie.

My wese en my binnekamer en my hart en my siel weet wie my Pa is. En ek weet wat ek in hom het. Hy is ‘n wel deurdagte man. Hy het meer as 20 jaar gelede “beswyk” aan ‘n hartaanval, maar hy is toe een van daai storieboek gevalle wie terug geskok was. Hy was halfpad oppad hemel toe. Hy is nie ‘n preekerige teoloog nie. Hy is nie geestelik hoogmoedig of eiewys nie. Hy is iemand wie daagliks die dinge van die Gees ondersoek. Punt. Hy praat waarheid. Hy manipuleer nie. Hy draai nie doekies om nie. Hy gil of skree nooit. Hy antwoord jou soos dit is. Maar eers luister hy baie fyn. Hy luister intens. Hy tjip nie in as jy praat nie. Hy hoor tussen elke lyn wat jy eintlik sê.

Baie mense besef dit nie van hom nie.

Jy gaan by hom hoor wat jy moet hoor. Veral as jy vra. Hy judge jou nie uit sy beurt nie. Hy is meesal stil. En tevrede. Sy groot snor is intimiderend maar terselfdertyd lyk dit altyd of hy glimlag, al glimlag hy nie. Hy het sagte oë, maar ‘n gesagdraende stem. Duidelik. Hard, as dit die slag moet. Dit is die agtergrond.

Hy antwoord nooit die telefoon nie. Mamma antwoord. Al wat ek kon uitkry, is dat ek onmiddelik met Pappa wil praat! Asseblief. Dadelik. Sy vra nie vrae nie. Sy weet! As Karen met Pappa wil praat, staan sy opsy.

Dit is hoe ‘n mens na God toe gaan, glo ek. Dit is hoe ‘n mens Hom roep, in ‘n krisis. Dadelik. My Pa neem die foon by my Ma, en ek hoor sy bekende groet-stem: “Hello my skat.”

Net dit.

Ek trek los, en dit is soos n donderstorm wat oor my tong rol. Ek praat en praat en vertel en bewe en praat en bewe en praat en vertel. Alles. Detail. Ek laat niks uit nie. Nie ‘n emosie nie. Nie ‘n krummel nie. Nie ‘n jota of tittel nie. Hy hoor alles. En toe my seer en my verwardheid en my pyn en my verslaentheid en my verwerping en my angs en my bitterheid en my verdwasing alles in sy skoot lê……..sê hy soortvan stadig, rustig en kalm en bedaard en propvol liefde vir my:

“Goed my skat. Ek hoor wat jy sê. Pappa het vir jou één vraag”. Pause. In daai split sekonde gaan ‘n miljoen moontlikhede deur my kop. Sonder om rêrig te dink.

Wat gaan hy sê? Wat gaan hy doen? Hoe gaan hy dit oplos? Gaan hy my help? Kan hy my help? Gaan hy my teregwys? Wat op aarde gaan hy my NOU vra. Een vraag? Ek wil nie eintlik net één vraag van hom hê nie. My jissie! Sy gun moet al gelaai wees. Hy is immers n bekroonde WP skut en hy tref bokke en kudu’s net met kopskote. Hy moes nou al bereken het of hy genoeg petrol in sy kar het om te ry. Na my toe. Na my vyand toe. Maar hy wil vir my één vraag vra. Réríg! 🤔Net een?!

Ok.

“My kind. As ons die klok kan terugdraai, sal jy weer sê wat jy gesê het (vir daardie persoon); en sal jy weer doen wat jy gedoen het? (Teenoor daardie persoon?)” …….hoor ek hom vra. En hy wag. Sag en rustig en stil.

‘n Kalmte kom oor my wat geen woorde kan beskryf nie. Ek dink dieper as ooit vantevore in my hele lewe. Want hierdie vraag wil ek virséker uit my hárt antwoord. Hierdie vraag wil ek waar en reg antwoord. Sonder vrees. Sonder dat ek straf verwag. Sonder oordrewe emosie. En ek weet hy gee vir my tyd. Al die tyd in die wêreld om te dink. Om alles van voor af in my gedagtes af te speel, myself te sien, en te dink. Eerlik te dink……..

Ja Pappa! (Enoŕme Verligting!)

Beslis en definitief JA! Ek sal presies dieselfde doen. Ek sal presies dieselfde sê. En ek sal presiés dieselfde optree. Eenhonderd persent!

Terwyl ek myself dit hoor antwoord, amper, soortvan blý antwoord, kom daar n diepe rustigheid, ‘n tevredenheid, in my hart op. Terwyl ek so in my rustigheid inkom….sonder dat ek verder hoef te ondersoek, of te dink, volg my Pa se 4 woorde van wysheid: Woorde van krag. Woorde wat ek geensins verwag het nie, en terselfdertyd seker verwag het….van hóm.

“WEL ……(pause); DAN HOU JY DAARBY!!!”

(Dan hou jy daarby.) Hierdie 4 woorde sink in. Diep in my hart in.

Afgehandel. Toestemming. Troos. Erkenning. Aanvaarding. Reg. Regverdig. Case closed.

Dit was die einde van ons telefoon gesprek, maar dit was die begin van my nuwe lewe, van self respek.

Van self- waarde. Van sekuriteit. Van hoop. Van beskerming. Van troos. Van krag. Van selfbeheersing. Van liefde.

Een Skrif in die Bybel vlieg in en deur my hart toe ek die foon neersit. “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” Dit staan in 2 Timoteus 1:7

In my hart weet ek, my pa is ‘n wyse en ‘n menslik, regverdige man. Hy dien God. Hy skroom nie om tereg te wys of om hard te praat wanneer nodig nie. Hy is nie iemand wie rusie of kwaad stook nie. Glad nie. Ook is hy nie ‘n man wat hom laat intrek in rusies of kwaadpratery of kwaad stook nie. Sy lewe het my geleer dat ‘n dienaar van die Here onreg moet kan dra. Soos God in sy Woord sê.

Ook is my Pa vir my spreekwoordelik soos daardie gelykenis van Jesus wie lê en slaap het terwyl die skuit in die storm wou vergaan.

As my aardse Pa dié een storm kon stilmaak, met één vraag, en net 4 woorde wat so baie krag dra, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader nie elke storm in my en jou lewe stilmaak nie? Ons moet Hom dit net vra. Jesaja 50:10.

Pappa. Ek beland steeds in vals beskuldigings-situasies. Maar ek het nie nodig om jou te bel nie. Want jou woorde van wysheid is my krag. Die Here, wie die Gees is, herinner my dan aan daardie dag se woorde. Dit is my barometer. Dit is my maatstaf, my meetstok. En dan hou ek by my waarheid. Dan staan ek by wat ek gesê en/of gedoen het. Ek bid nou Psalm 76:11 nog by. Want God het my so geleer. Dankie Pappa. Ek is lief vir jou.

Van Karen. Die ene wie die dinge van die Gees net so ondersoek soos jy. Soms tot Mamma se ergernis. Hiehie

SHALOM.

Advertisements