My Pa se 4 woorde van krag.

Hierdie skrywe dra ek op aan my aardse Pa, Johannes, (Kassie) Kasselman, wie afterall vir my simbolies is van my Hemelse Pa. Dankie Pappa. Ek is lief vir jou.

***********************************

Vanaand sien ek ‘n mooi post op facebook van iemand wie wens dat sy haar Pa net eenkeer kan bel, en sy raad kan vra. Want, sê die quote, ‘n Pa gee ‘n eerlike reguit antwoord, sonder onnodige emosies. Sjoe! Hoe waar is dit nie, vir die van ons wie so geseënd is, om ‘n wyse Pa te kan hê nie? Nie ‘n baklei-Pa nie, nie ‘n afwesige-Pa nie, nie ‘n self gesentreerde Pa nie, maar ‘n wyse Pa. ‘N Pa met selfbeheersing en insig. ‘N Pa wie waarlik die Here dien. Ek wil vanaand iets kosbaars deel van ‘n gesprek tussen my en my Pa, ‘n paar jaar gelede………

Ek het in ‘n situasie beland wat ek eerstens nie sien kom het nie, en tweedens het dit eensklaps ontaard in wisseling van woorde wat een geestelike sou beskryf as ‘n vervloeking, en ‘n volgende sou dalk sê dat die woordewisseling maar net baie harde waarheid was. Hoe dit ookal sy, ek het daardie dag my mind ge-speak, soos wat ek dit laas op kollege teenoor n dosent gedoen het. Daardie is ‘n ander dag se verhaal. Die lank en die kort….dit was erg! Baie bitter erg! Ek het gesag wat bokant my was, verskriklik hard, en eerlik en reguit aangespreek op ‘n manier en in woede, wat ekself nie voorbereid was of kon sit en uitdink of beplan het of sien kom het nie. Geensins. Ek kan dit ‘n sweepslag (letterlik) noem. ‘n Sweepslag van waarheid. En toe sak ek inmekaar……En ek is soos doodgaan hartseer; daai wat jy snik, maar geen geluid kom uit nie, ek is verdwaas, en kwaad, en oorstelp en magteloos en kragteloos. Het jy al ooit so gevoel? Jy kan nie eens bid nie. Glad nie. Ek stap in die gang af na die telefoon toe, soos ‘n verlamde robot……en ek bel my Pa.

Vir agtergrond. Ek bel NOOIT my Pa nie. Net as hy verjaar. Want nie ek of hy is bellers nie. Ons hou nie van oproepe maak nie. Ons klets of skinder nie oor fone nie. Dit is geensins ons dīng nie. Ook is ek nie een van daai dogtertjies wie met elke bakketel na pappa toe hardloop nie, of my pa bokant my eie man stel nie. Ek doen dit nie.

My wese en my binnekamer en my hart en my siel weet wie my Pa is. En ek weet wat ek in hom het. Hy is ‘n wel deurdagte man. Hy het meer as 20 jaar gelede “beswyk” aan ‘n hartaanval, maar hy is toe een van daai storieboek gevalle wie terug geskok was. Hy was halfpad oppad hemel toe. Hy is nie ‘n preekerige teoloog nie. Hy is nie geestelik hoogmoedig of eiewys nie. Hy is iemand wie daagliks die dinge van die Gees ondersoek. Punt. Hy praat waarheid. Hy manipuleer nie. Hy draai nie doekies om nie. Hy gil of skree nooit. Hy antwoord jou soos dit is. Maar eers luister hy baie fyn. Hy luister intens. Hy tjip nie in as jy praat nie. Hy hoor tussen elke lyn wat jy eintlik sê.

Baie mense besef dit nie van hom nie.

Jy gaan by hom hoor wat jy moet hoor. Veral as jy vra. Hy judge jou nie uit sy beurt nie. Hy is meesal stil. En tevrede. Sy groot snor is intimiderend maar terselfdertyd lyk dit altyd of hy glimlag, al glimlag hy nie. Hy het sagte oë, maar ‘n gesagdraende stem. Duidelik. Hard, as dit die slag moet. Dit is die agtergrond.

Hy antwoord nooit die telefoon nie. Mamma antwoord. Al wat ek kon uitkry, is dat ek onmiddelik met Pappa wil praat! Asseblief. Dadelik. Sy vra nie vrae nie. Sy weet! As Karen met Pappa wil praat, staan sy opsy.

Dit is hoe ‘n mens na God toe gaan, glo ek. Dit is hoe ‘n mens Hom roep, in ‘n krisis. Dadelik. My Pa neem die foon by my Ma, en ek hoor sy bekende groet-stem: “Hello my skat.”

Net dit.

Ek trek los, en dit is soos n donderstorm wat oor my tong rol. Ek praat en praat en vertel en bewe en praat en bewe en praat en vertel. Alles. Detail. Ek laat niks uit nie. Nie ‘n emosie nie. Nie ‘n krummel nie. Nie ‘n jota of tittel nie. Hy hoor alles. En toe my seer en my verwardheid en my pyn en my verslaentheid en my verwerping en my angs en my bitterheid en my verdwasing alles in sy skoot lê……..sê hy soortvan stadig, rustig en kalm en bedaard en propvol liefde vir my:

“Goed my skat. Ek hoor wat jy sê. Pappa het vir jou één vraag”. Pause. In daai split sekonde gaan ‘n miljoen moontlikhede deur my kop. Sonder om rêrig te dink.

Wat gaan hy sê? Wat gaan hy doen? Hoe gaan hy dit oplos? Gaan hy my help? Kan hy my help? Gaan hy my teregwys? Wat op aarde gaan hy my NOU vra. Een vraag? Ek wil nie eintlik net één vraag van hom hê nie. My jissie! Sy gun moet al gelaai wees. Hy is immers n bekroonde WP skut en hy tref bokke en kudu’s net met kopskote. Hy moes nou al bereken het of hy genoeg petrol in sy kar het om te ry. Na my toe. Na my vyand toe. Maar hy wil vir my één vraag vra. Réríg! 🤔Net een?!

Ok.

“My kind. As ons die klok kan terugdraai, sal jy weer sê wat jy gesê het (vir daardie persoon); en sal jy weer doen wat jy gedoen het? (Teenoor daardie persoon?)” …….hoor ek hom vra. En hy wag. Sag en rustig en stil.

‘n Kalmte kom oor my wat geen woorde kan beskryf nie. Ek dink dieper as ooit vantevore in my hele lewe. Want hierdie vraag wil ek virséker uit my hárt antwoord. Hierdie vraag wil ek waar en reg antwoord. Sonder vrees. Sonder dat ek straf verwag. Sonder oordrewe emosie. En ek weet hy gee vir my tyd. Al die tyd in die wêreld om te dink. Om alles van voor af in my gedagtes af te speel, myself te sien, en te dink. Eerlik te dink……..

Ja Pappa! (Enoŕme Verligting!)

Beslis en definitief JA! Ek sal presies dieselfde doen. Ek sal presies dieselfde sê. En ek sal presiés dieselfde optree. Eenhonderd persent!

Terwyl ek myself dit hoor antwoord, amper, soortvan blý antwoord, kom daar n diepe rustigheid, ‘n tevredenheid, in my hart op. Terwyl ek so in my rustigheid inkom….sonder dat ek verder hoef te ondersoek, of te dink, volg my Pa se 4 woorde van wysheid: Woorde van krag. Woorde wat ek geensins verwag het nie, en terselfdertyd seker verwag het….van hóm.

“WEL ……(pause); DAN HOU JY DAARBY!!!”

(Dan hou jy daarby.) Hierdie 4 woorde sink in. Diep in my hart in.

Afgehandel. Toestemming. Troos. Erkenning. Aanvaarding. Reg. Regverdig. Case closed.

Dit was die einde van ons telefoon gesprek, maar dit was die begin van my nuwe lewe, van self respek.

Van self- waarde. Van sekuriteit. Van hoop. Van beskerming. Van troos. Van krag. Van selfbeheersing. Van liefde.

Een Skrif in die Bybel vlieg in en deur my hart toe ek die foon neersit. “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” Dit staan in 2 Timoteus 1:7

In my hart weet ek, my pa is ‘n wyse en ‘n menslik, regverdige man. Hy dien God. Hy skroom nie om tereg te wys of om hard te praat wanneer nodig nie. Hy is nie iemand wie rusie of kwaad stook nie. Glad nie. Ook is hy nie ‘n man wat hom laat intrek in rusies of kwaadpratery of kwaad stook nie. Sy lewe het my geleer dat ‘n dienaar van die Here onreg moet kan dra. Soos God in sy Woord sê.

Ook is my Pa vir my spreekwoordelik soos daardie gelykenis van Jesus wie lê en slaap het terwyl die skuit in die storm wou vergaan.

As my aardse Pa dié een storm kon stilmaak, met één vraag, en net 4 woorde wat so baie krag dra, hoeveel te meer sal ons hemelse Vader nie elke storm in my en jou lewe stilmaak nie? Ons moet Hom dit net vra. Jesaja 50:10.

Pappa. Ek beland steeds in vals beskuldigings-situasies. Maar ek het nie nodig om jou te bel nie. Want jou woorde van wysheid is my krag. Die Here, wie die Gees is, herinner my dan aan daardie dag se woorde. Dit is my barometer. Dit is my maatstaf, my meetstok. En dan hou ek by my waarheid. Dan staan ek by wat ek gesê en/of gedoen het. Ek bid nou Psalm 76:11 nog by. Want God het my so geleer. Dankie Pappa. Ek is lief vir jou.

Van Karen. Die ene wie die dinge van die Gees net so ondersoek soos jy. Soms tot Mamma se ergernis. Hiehie

SHALOM.

Advertisements

Dwelmduiwel☠

Soos wat daar Walt Disney sprokies-verhale is met happy endings, wat ons oor en oor kyk…..Cinderella, Beauty and the Beast, Lion King, Pocahontas, Little Mermaid en honderde ander, besef ek het die duiwel ook sy fantasie verhale wat hy bemark en adverteer en uiteindelik verkoop. Sy tickets, is dwelmmiddels.

Die verhale daar buite wat in hierdie mediums afspeel, is naar, dis brutaal, dis hartseer, dis lelik, dis onmenslik, dis vernederend, dis ondenkbaar, en dit speel homself oor en oor en oor af…..sonder om te wìl stop! En dit het nie die happily ever after nie. Dit het die pad na die dood as ‘n einde.

Ek was baie jare betrokke by ‘n instansie wat dwelmverslaafdes ingeneem, gehuisves en probeer rehabiliteer het, deur geestelike voeding aan te bied. Bybelklasse wat opvoeding en lewens-orièntering ingesluit het. Ek is geensins ‘n kenner op dwèlm-gebruik nie. Ek het dit nooit ondersoek nie, en ek is nie van plan om te begin nie. Hoekom “werk” ek dan daarmee en waarom raak ek steeds betrokke by programme wat poog om ‘n verskil te maak?

Omdat ek tot my dooddag sal glo aan die volgende “gelykenis”, soos Jesus Christus “gelykenisse” vertel:

“Lank lank gelede, in ‘n dorpie, vèr van hier het ‘n paar skelms skielik uitgevind hoe om muntstukke en papiergeld te vervals. Die polisie moes intree om hierdie skelms te vang en die vervalsste note uit te roei asook die vervalsing van elke muntstuk te stop. Hierdie vervalsste geld was teen hierdie tyd versprei, soos suurdeeg. Dit was in die agentskap. ‘N Agentskap was daardie tyd die aanspreekvorm van ‘n bank wat nie ‘n bankbestuurder gehad het nie. Voor die rekenaar tyd. Die teller was belangrik. Hierdie vervalsste geld was toe reeds in elke klein besigheid, petrolstasie en in elke huisvrou se beursie. Krisis!

Daar was nog ‘n opgeleide ondersoekspan ingestuur om al hierdie vervalsste note en munte te kom uitken en te vernietig. Sodra hulle gedink het hulle het die probleem onder die knie, en dat hul uiteindelik elke templaat uitgeken het, wat aanhoudend bly opduik soos paddastoele, tree ‘n moedeloosheid in. Want hoe meer die ondersoekspan vir mekaar beginne leer hoe die vals stukke lyk, hoe meer spring daar valsstukke na vore. Die dorpie was aan die ondergaan.

Die dag wat hulle opgee, en besluit om die saak gewonne te gee, stap ‘n jong seun by die ondersoek-lokaal in. Hy lewer die pos af. Getrou. Elke dag, ook vir ‘n ekstra geldjie. Hy sit sy geld wat hy al maande lank spaar, op die toonbank neer. ‘N Paar note en ‘n muntstuk van elke soort. En hy sê: Ekskuus menere. Julle hou aan om die vervalsste geld te bestudeer. Dit maak julle net nog meer deurmekaar. Ek stel voor dat julle ‘n baie deeglike studie doen van die ware note en munte. Op diè manier sal julle die vals geld op ‘n afstand kan uitken. Hy lig sy pet, groet vriendelik: Dag menere. En die seun stap uit.”

Jesus Christus is die ware Een. Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Die Satan is terrified vir Hom. Daarom behou hy sy strategie van misleiding dat dwelm rehabilitasie programme kerke en instansies moet aanhou konsentreer op al die valsheid. Al die leuens. Al die probleme. Al die duisternis, en veràl op die “relapse”….daai ene het die tyd my geleer, is sy favorite strategie. Die onderlinge verskansste leuen hierin is: Jy gaan trugval. Dis hoe dit is. Kom ons werk daaraan. Lewenslank……net sodat hy jou kan opstel om jou te vernietig.

Solank Jesus Christus se woorde, sy bediening, sy lering, sy waarskuwings, sy berg-predikasie, sy wonderdade, sy opdragte, en veral sy kruisiging so minimaal as moontlik “bespreek” of “ingebring word”; he keeps his kingdom rolling. En hy lag. Hy spot. Hy demand. Hy maak moeg. Hy is die taker. En hy laat rehabs evensieel toemaak en doodloop.

Geen dwelmprobleem sal in hierdie land die Lig sien, voor die Lig, en nèt die Lig, by Naam, Jesus Christus, nie vir hierdie duisternis gewys word nie.

Ek het die ander nag ‘n droom gehad. Ek het lank gedink of ek dit hier moet skryf, en tot die gevolgtrekking en oortuiging gekom dat ek moet, volgens wat daar geskrywe staan in 1 Johannes 3:7-10. En ek doen dit in die volle beskèrming van God, soos Hy dit aan my gee in Jesaja 54. Die hele hoofstuk 54.

Hier volg wat ek gedroom het:

Ek was in ‘n groot saal en daar was hordes mense. Ek was ook daar. Iemand het my skielik hardop uit die skare gevra wat hier aangaan. Ek het geantwoord: Weet jy dan nie dat die grootste dwelmhandel en drug-lords vanuit hièrdie omgewing opereer nie? Ek kon sien die persoon steur haar nie aan my antwoord nìe. Skielik vra ‘n kind in die skare of hy gedoop mag word. Ek skep moed en raak báie bly. Ek draai om, sodat ek hierdie doop kan aanskou. ‘N Vreemd figuur sê gretig ja vir hierdie doop, en bring ‘n glasie te voorskyn met vloeistof daarin om die “kind” te doop. Dit was een oomblik ‘n kind, en toe skielik ‘n groot mens, soos ons altyd sê. Ek wag vir die baie bekende woorde, “Ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”……..maar skielik sê hierdie doper…….ek doop jou in die name van #%@$&%, en die #$%@&!* en die @#$&%%^!!!!!. Die afgrysliksste, mees onaardse name wat my ore nog nooit ooit gehoor het nie. Ek staan stil geskok. En die doper beginne lag….vieslik lag. Die dopeling verander in ‘n gedrog en staan en gluur my aan. Uitdagend. Die skare geepad soos die Rooi See en maak vir my ‘n pad oop om reguit na die gedrog te stap. Ek doen so. Geen vrees in my nie. Ek is kwaad. En ek kies onmiddelik om hierdie ding te konfronteer! Ek beginne sê hardop:

“DIE BLOED VAN JESUS CHRISTUS.” In die agtergrond gewaar my ore dat ‘n paar siele (slegs enkeles); uit die skare hierdie woorde saam met my sê. Ek staan vàs. Die ding kan maar kom. Hy haat my. Ek weet dit. Ek sien dit, en ek voel die haat. Ek tree al nader en ek hou aan om Jesus se Naam te sê. In my gees, dink en hoop en glò ek, die gedrog gaan enige oomblik disintegreer. Maar hy word woedend vir my. Hy stap baie vinnig by my vèrby en gebied sy “gevolg”; om agter hom aan te kom. Hy doen dit met onbeskryflike vrees na hulle toe. Maar ek sense dat hy bang is vir my. Ek bly doodstil en ek staan en kyk. En ek wag. Rondom die gedrog, is ongeveer ‘n groep van 6 mans wat mantels dra. Nogals gekleurde mantels. Ek bly staan. Geen vrees kom naby my nie. Maar ek kan geensins die saal verlaat nie. Ek word vasgehou, sonder dat iemand aan my raak. Die gedrog en sy gevolg verdwyn deur ‘n deur na ‘n volgende vertrek. En my gees hoor hoe die gedrog die 6 mans beveel om sy kop af te kap, en dan sy kop in ‘n goue kou na my toe te bring. Sodat ek en al die mense om my kan sien wie die mag hier het. Skielik dink ek aan Johannes wie deur Herodus onthoof is, soos in die Skrif opgeteken. Ek bly staan. Die deur gaan oop. Die skare mense rondom my is terrified. Lam gelê. Noù praat nie een van hulle ‘n woord nie. Die ding in die goue kou voor my, is skielik ligblou gekleur en dit neem die vorm aan, soos Jesus se gesig op die kinder Bybel prente.

Ek bèsef wat die duiwel doen. Hy maak die afgryslikste bespotting van die Here Jesus, van die heilige doop, en hy verwerp die bloed van Jesus. Hy haat die Lig. Hy haat Jesus Christus. Hy sien Jesus in my. Hy ìs die dood. Ek gaan staan reg voor hom en ek praat. Baie hard. Baie reguit. Baie sèker. Onbeskryflik séker. En ek sê vir hierdie dìng:

JY STEL NIE BELANG IN REDDING NIE! JY HAAT DIE LIG! JY MAAK N BESPOTTING VAN JESUS CHRISTUS. JY SAAI DOOD. JY BRING DOOD. MAAR JY KAN MY NIE AANRAAK NIE! JY KAN NÌKS AAN MY DOEN NIE! EK WÈÈT JY SIEN DIE LIG AS JY NET NA MY KYK. EK TREK NOU REG VOOR JOU DIE VOLLE WAPENRUSTING WAT GOD MY GEE AAN. EK SIT DIE HELM VAN VERLOSSING OP MY KOP. DIE VRYSPRAAK VAN GOD IS MY BORSHARNAS. DIE BEREIDHEID OM DIE EVANGELIE VAN VREDE TE VERKONDIG, IS DIE SKOENE AAN MY VOETE. DIE WAARHEID IS DIE GORDEL OM MY HEUPE. JY SIÈN DIT!!!!! IN MY EEN HAND IS DIE SKILD VAN GELOOF EN IN MY ANDER HAND IS DIE SWAARD VAN DIE GEES. DÌT IS DIE WOORD VAN GOD. MY GOD SAL MET JOU AFREKEN!!!!!!!!

(Sien die Brief van Judas, verse 9-25 en lees Efesiërs 6:10-20.)

Ek draai om. Al die deure gaan wawyd oop. En ek stap uit. Sonder dat enige mens saam met my hoef te stap.

Dit was die droom. Ek kan dit elke liewe dag kristal helder herroep. Ek ken die waarskuwing in die Skrif, ìn Jeremia 23 oor vals profete, en om van drome te vertel wat nie waar is nie. Ek sal aan God rekenskap gee. Oor elke woord! Dìt weet ek. Sien Jeremia 23:32.

Ek skrik wakker. En weet ek is in my eie kamer, in my eie bed. Geen vrees. Ek staan op. En ek gaan skryf alles neer. Skryf is mos my dìng. God sê in Jeremia 33: 3….”Roep My aan. Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge, waarvan jy nie weet nie.”

Ek glo sonder twyfel dat ek voor die dwelmduiwel gestaan het!!!!!

Die Woord is my krag, my wapen, en ook die gawe van kragtige werking van die Gees (1 Kor 12) wat God my gegee het, op 1 Oktober 1998.

GOD alleen kàn hierdie dwelmduiwel wat vir elke kerk, elke gelowige, elke goeie poging en elke instansie uitlag, verdelg. Ek sal sonder ophou biddend bly hiervoor. Al sien ek nie verandering nie, want ek weet, na hierdie droom, …”vir God, is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.” Psalm 139:12.

GEEN mens weet wat nèt God alleen weet, geen mens kan sien wat net Hy kan sien nie, en geen mens kan self met die satan en sy werke afreken nie. Jesus het dit reeds aan die kruis gedoen. So waarom seëvier die dwelmduiwel nogsteeds oor hierdie prag land van ons? Elke dorp. Elke skool. Elke stad.

Waarom stroom mense wie vasgevang is in die greep van die dwelmduiwel dan nie na kerke of instansies om hulp nie? Waarom dink almal hulle moet maar vasgevang bly leef?

God gebruik steeds mense. David het vir Goliat verslaan. Daniël het die leeukuil oorwin. Ester het die koning, Ahasveros, se septer vrygespring en die hele Joodse volk gered.

Jesus Christus is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde. Hebreërs 13:8. Eers as HY verheerlik word, word die Gees uitgestort. Johannes 7:39. Want nie met mag of krag sal ons oorwin nie, maar deur die GEES. Sagaria 4:6 sê so. En Matteus 12:28 sê so. En in Johannes 6:63 staan daar ook, “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie.”

Anders bly ons pogings at best, maar net goeie mense-werke; waarmee ons ons besig hou. En selfs dìt mag dalk nog vir jare so wees. Sien Prediker 3:10-11. Dan is dìt ook goed.

Dus sal ek aanhou om JESUS CHRISTUS te verkondig. Tydig en ontydig. Ongeag en ten spyte van geen sigbare resultate. God slaap nie. En elkeen sal kry wat hom/haar toekom, volgens 1 Korintiërs 3:10-23. Elke knie sal buig en elke tong sàl bely dat Jesus Christus, die Here is. Amen.

SHALOM